Nanna

deur Annie Crauwcamp

zaiden_zaraOns 2-jarige Zaiden met sy potblou oë en dimpels kruip maklik in mens se hart in. Hy is ons jongste kleinkind. Sy ogies lag maklik. Sy klokhelder laggie maak mens se hart warm. Almal wil hom net heeltyd opvreet maar hy verdra die aanslag van arms en lippe vir ‘n rukkie en dan wil hy af. Genoeg is genoeg. Hy wil beweeg.

Die mannetjie is besig. En vinnig. Jy dink nog hy is op een plek dan is hy al vier stasies verder. Hy kry genoeg oefening.

En tog kan hy lank op een plek sit en blokkies bou. Of al sy karretjies in ‘n ry pak. En dis ‘n lang ry. Die meneertjie hou van enigiets met wiele.

Een nag word Zander en Caro in die middernagtelike ure wakker van ‘n geluid en vind die klein renjaertjie in die kombuis waar hy om en om die tafel ry met sy fietsie. Heel gelukkig met homself. Hoekom sal mens alleen in jou bed wakker lê as jy kan beweeg?

Zaiden is baie lief vir sy grootouers – al vier van ons. As hy aangehardloop kom en in ons arms in smelt, gaan haal ons summier vir hom die maan. Om hom ‘n dag lank op te pas, is soos om ‘n marathon te hardloop… Baie uitputtend maar deur en deur die moeite werd – sê hulle.

Hy’s mal oor sy sussie, Zara (6), wat hy vir een of ander rede ‘Hiehie’ noem. Sy is sy beste maatjie en natuurlik ook sy ‘partner in crime’. Sy verstaan hom die beste en as een van ons nie kan uitmaak wat hy wil hê nie, is Zara ‘n gewillige tolk.

zanderSy Pappa is sy held. Hy geniet die sterk arms wat hom hoog kan optel en wat keer dat hy nie seerkry nie. Die speel is die lekkerste – en as dit in die swembad kan wees is dit nog beter. En glo my, hy het sy Pappa goed in sy sak.

caraMaar sy gunsteling, die enigste een wat hy wil hê wanneer sy wêreld skud, wanneer enigiets nie gaan soos sy breintjie dit uitgedink het nie, is sy liefste Mamma. Sy draai die wêreld weer reg, soen die seer weg, dink iets uit wat aandag aftrek. Sy weet wat is fout en ook hoe om dit reg te stel. Haar arms is sy veilige plek.

Miskien is dit ook hoekom haar liefdesnaampie vir hom, Nannapaai, sy naam vir homself geword het: Nanna.

vdbijl_crauwkiesSoos met meeste seuntjies, het hy nie so vinnig begin praat soos sy ousus nie. Maar toe hy begin, trek hy weg met ‘n spoed. Sy woordeskat brei uit met rasse skrede en ons vier omtrent elke nuwe woord. Die mooiste een is natuurlik: ‘Ouma’.

Die potjie word nou vir ‘n tydperk die middelpunt van die gesin se fokus en die jonge man vorder mooi. Hy is nou ook meer bewus van die onderwerp en miskien is dit hoekom hy, toe hy ‘burp’, na sy Mamma toe draai en sê: “Mamma, Nanna mond poep.” 😊😊