Boek Vol Annie
deur Müller Crauwcamp
Haar lag is die helderste as al die karakters op een bladsy saam lees.
Tydens ons laaste besoekie aan die Boeremark het ek daarmee vrede gemaak. Ons gaan elke keer by die boeke-stalletjie stop. Moet stop! Die melkkossie wat ek gekoop het om eers by die huis te eet, het ek maar teelepel vir teelepel begin geniet. En ek het dit geniet! Nie net die warmte wat so in my maag afkruip om die herfs se vroeg-oggend varsheid te keer nie, ook om te sien hoe sy boek vir boek optel. Deurblaai. Snuffel en kyk. Lees!
Met twee uitgesoektes in die hand stap sy heelwat later hierdie kant toe. Dis net haar lyf wat hiernatoe kom; haar oë bly agter terwyl die leë hand nog oor ses of sewe boeke streel. My melkkosbakkie is lankal in die naby-asblik gegooi. Tyd het nie gebeur nie!
Dis of sy die twee kleinnode aan my wil opfeil toe sy naby kom. Hierdie een se hoeke is nie meer so mooi nie, maar die binnekant glans nog mooi en dis so jammer die ander een se ietsie is iewers ook nie meer reg nie. Dis sulke mooi stories! Ek dink ons moet vandag maar los…
Dis selde dat ons sonder waarde vir geld wegstap.
Die eerste ent se wegstap is stil; nie soos haar aard nie. Ek weet die pas vlugtige-lees-storie vat nou sy loop in haar kop. Wanneer sy dit vir haar kleinkinders sou kon lees, sou daar nuwe paadjies in vars breine geloop word. Paadjies wat daarna nooit ongeloop gelaat sou kon word nie. Stories wat prentjies word en prentjies wat stories word! En ek kan nie help om saam te dink nie… saam te onthou nie…
Een prentjie wat by my ingegrafeer is, is die koebaai-sê soms as ek op pad was werk toe. Een aan elke kant het ons kinders onder haar vlerke ingekruip met ogies skeef-trek gefokus op die bladsye van die boek op Mam se skoot. Voor ek by die deur kon uitloop, het ek die stories verder hoor gebeur. En wêrelde het oopgeval, hulleself wapaddraaie laat loop. Saam met die hoofkarakters was hulle die helde – en op plekke waar net die saamloop gedagtes jou kan vat, het hulle uitgelate baljaar. Avontuurlustig of sprokiesagtig. ‘n Rondomtalie van êrens tot nêrens wat subtiel op die tweede laaste bladsy ‘n landingsplek soek.
Ander kere was elkeen met sy eie ding besig terwyl die storie uit Annie se mond oor die bladsye beweeg het. Kort-kort moes die blokkies self bou en die inkleur self inkleur om net gou te kom kyk of die prentjies op die bladsye nog dieselfde lyk as die vorige keer. Storie op storie het haar warm stem die huis volgemaak. Hoë klanke hoog en lae klanke met regte fraserings en pouserings. En as Mam gou wou asem skep of ‘n slukkie water deur die droë keel wou jaag, was daar angstige ongeduld vir verder lees…
So het Annie ook die lang pad see toe kort gemaak. G’n radio of CD op pad Kaap toe kon kers opsteek met ‘n Fiela-se-kind of Kringe-in-‘n-bos nie. Soos wat die pad gekronkel-kronkel het, het ons Oupoot gevolg. Saam met Anne-of-Green-Gables het ons in die wolke van taal gevlieg. Elkeen met sy eie gedagtes in dieselfde rigting. En soms het ons saans die branders in die agtergrond gehoor met die vervolgverhaal wat in die voorgrond aanlees.
Boeke het ons reis geword. Lizahn kon ure op haar bed lê en bladsy vir bladsy omblaai terwyl Zander die speurder geword het wat spannend op die onderste deel van die bunkerbed die gevaar trotseer.
Ons het meer boeke as wat ons kan oplees. En baie kinderstories waarin ons kleinkinders gaan grootword. Daar is alreeds ‘n paar gunstelinge wat self uit die boekrak gehaal mag word. Self! Boeke met prentjies, boeke met deurtjies wat wonders oopmaak. Boeke met kleure en boeke met woorde! Dis stories oor Moses en Dawid en Josef en Noag wat aan die lewe betekenis gee. Dis Jesus en sy dissipels, Petrus en Johannes, wat ons vandag as grootmense nog steeds aan die hand vat en lei. Dit help dat ons vandag kan weet Rooikappie en Sneeuwitjie was nie daar …eendag lank lank gelede, toe Jesus nog op die aarde was…
Terwyl ek my melkkos storie vir storie opgelees het, het dit lank gevoel om te wag tot Annie klaar gekies het. Vir haar kinders en kleinkinders gekies het! Dit het egter nie so lank gevoel voor ons kinders hulle eie stories begin uitkies het nie. Hulle het hulleself uit die huis uit gestorie! Elkeen het die bladsy omgeblaai waar die regte maat gewag het. Ek dink DeWet was een van daardie uitpop-bladsye wat vir Lizahn WHAA gemaak het – en sy het nie geweet of moet sy skrik of lag nie, toe vang die ridder met die wit perd… o, nee! G’n perd vir hulle nie; eerder ‘n rooi lorrie! Vir Zander was die bladsy se omblaai so ‘n groot verrassing; dit was nie die bladsy wat uitgepop het nie, maar wel sy oë toe hy Caro se prentjie die eerste keer gesien het! Hulle het met grasie en gemak net by ons kon inpas om die prentjie te voltooi.
Ek blaai nou al jare lank deur die Annie-boek. Die vrou wat die ma van ons kinders is. Die ouma van ons kleinkinders. Dis ‘n mooi boek vol onthou en inkleur en kleur en karakter. Een wat gelees is en steeds gelees word. ‘n Boek waarin die karakters meer word; eers was dit net ons twee, toe nog twee – en heelwat later nog vier. Opvreetliefies! Haar lag is die helderste as al die karakters op een bladsy saam lees.
Die titels van MA en OUMA het die hoofkarakter aangetrek met ‘n nommerpas-jas.
Gelukkig kom ons nie gereeld by die Boeremark nie, want soos sy self sê as die Here wou gehad het ek moes die son sien opkom, sou Hy dit later geskeduleer het. Maar wanneer ons een Saterdagoggend weer dou voor dag uit die vere klim, weet ek… ons sal maar weer by die tweedehandse boekstalletjie stop. Miskien dan… is daar een met die titel: ‘N BOEK VOL ANNIE.
