Man uit die Oos-Kaap
deur Müller Crauwcamp
Eendag was daar…
…‘n man wat in die Oos-Kaap grootgeword het. Charl het Oos Londen goed geken. Gawe mense in sy dorp. Sy soort mense. As kind het hulle gereeld rondgereis. Sy pa was lief daarvoor om besienswaardige plekke uit te snuffel. Die Oos-Kaap is mooi. Hogsback. Lady Gray. En Grahamstad, die kultuurmekka van Suid-Afrika.
Hy was iemand wat die see geken het. Hulle het eenkeer bietjie noord gereis. Vir hom was dit ‘n dag van uiterstes: die ongerepte natuurskoon van die destydse Transkei was asemrowend! Later het hulle deur Umtata se wriemelende strate gery en die stad se geraas was oorverdowend. Wat gebeur het, het slegte onthou losgemaak vir die res van sy lewe.
Niemand het hulle aan verkeersreëls gesteur nie en die botsing was aan sy kant! Die ongeluk het lewenslange letsels gelaat wat ‘n vasskopplek in sy siel gekry het. Die skade aan sy pa se motor was onherstelbaar. Alleen het hy in die hospitaal oornag terwyl die res van die gesin elders ‘n heenkome moes vind. Die verpleegpersoneel het hom gepynig, dis wat hy fel onthou. Hy was verlate-alleen.
Hierdie mense was anders. Nie sy soort mense nie. Hy het geluister, maar kon nie hulle taal verstaan nie. Hulle het van hom gepraat - nie met hom nie. Hy het besluit om nie van hierdie stad se mense te hou nie! Nooit ooit nie!
Na skool het Charl die Oos-Kaap vaarwel toegeroep. Verlede. Die toekoms en studentelewe by Tukkies het nuwe wêrelde vir hom oopgebreek. Dis meer sy soort mense dié. Hulle verstaan mekaar se taal. Die akademiese wêreld was vir hom ‘n lekker uitdaging en hierdie mense het maklik in sy hart ingeklim. Dis ook hier waar hy tot insig gekom het van wie hy is – en wie God is.
Dit was ‘n voor die handliggende besluit om daarna in Pretoria sy praktyk te begin. As besigheidsman het sukses hom agtervolg. Goedheid en guns. En hy het die vrug op sy arbeid geniet. Hy het gesien en beleef hoe mense oor kerkgrense hande vat.
Sy soort mense.
Dit was tydens een familievakansie in sy grootword-plek dat hy ‘n bekende stem met hom hoor praat. In sy binnekant. Hy het die Here se stem geken! Maar hierdie keer het hy nie gehou van wat hy hoor nie… Hy wou nie luister nie.
…UMTATA toe!?? Nee, Here! Die gefluister kon hy nie stil dink nie. Terugflitse aan die ongeluk en die hospitaal het weersin in sy keel laat opstoot. Niemand kan DIT van hom verwag nie! Iemand anders kan daardie spul probeer evangeliseer. Buitendien is hulle so hardkoppig; hulle sal nie luister nie. Hy het vergeet hoe sy onderwyser eendag in die Aardrykskundeklas verduidelik het dat hierdie stad se naam ‘luister’ beteken.
Die volgende woorde was nie net ‘n gedagte nie, dit was so duidelik dat hy terstonds omgekyk het of hy dalk ‘n harde stem agter hom hoor praat: ‘Binne veertig dae sal ‘n hele stad na My toe draai omdat hulle na My woord in jou mond luister’. Iewers het hy dit al raakgelees.
‘n Stad met meer as 210,000 mense! Onmoontlik! Selfs die Here weet nie waarvan Hy praat nie, het hy homself oortuig. Charl kon daardie nag nie slaap nie.
Voor sonop het hy besluit om weg te kom. Weg van daardie wêreld waar hy te naby is aan die mense van wie hy nooit sal hou nie. Maar eintlik het hy van die stem binne hom gevlug.
Spoedig het hy in Port Elizabeth aangekom. Dis by hierdie plek - wat later ‘n naam sou kry wat g’n mens kan uitpreek nie - waar hy op ‘n boot geklim het. Dit was nou wel nie so groot soos die skip waarvoor gehoop het nie, maar twee dae wag, was te lank.
Op pad Kaap toe het dit stormagtig geraak. Sulke hoë golwe op die see was niemand te wagte nie. Die dobberende boot was nie bestand teen hierdie natuurfrats nie. Almal aan boord het besef daar is geen kans op oorlewing nie! Hy het egter geweet – soms weet jy net dat jy weet – die enigste kans vir hierdie mense om te oorleef, is in hom opgesluit.
Gooi my oorboord en julle sal lewe!
Hulle het dit gedoen – en ‘n vis het hom ingesluk…
