Rylopers

deur Müller Crauwcamp

Wim en sy vriend was in diep gesprek op die snelweg. Dit was in die tyd toe dit nog veilig was om ‘n ryloper op te laai.

Hulle het by die man verbygery sonder om hom te sien. Dit was eers toe hy in sy truspieëltjie kyk dat die man kleiner word. Sonder ‘n tweede gedagte het hy die motor tot stilstand gedwing. Binne die geel streep. In die terugry het die man groter geword. Tot by die oop venster. Uitasem na die gulsige langbeen treë. Waarheen is jy op pad? Die man het sy effens gehawende hemp reggetrek. Sy deurmekaar hare was verskoonbaar. Daar was smeek in sy oë. Die rooi daarin het seker sy eie storie om te vertel. Pretoria toe, Meneer. Die rasper was in sy stem. Om sy lippe was harde stoppels. Dis vanselfsprekend dat hierdie pad slegs soontoe loop. Klim. Oor die karige handbagasie het hy mooi sorgvuldig sy hande gevou nadat hy die deur vir die tweede keer agter hom toegeklap het.

Wim en sy vriend het hulle gesprek probeer voortsit. Maar dit wou nie meer voort nie. Intussen het Steve sy besittingsbondeltjie langs hom gesit – een hand het dit steeds beskerm. Wanneer hulle Steve probeer uitvra het, was die antwoorde maar vaag. Niemand was meer spraaksaam in die kajuit nie.

Die geboue van die stad het nadergekom. Waar in Pretoria kan ons jou aflaai, Steve? Sommer maar enige plek, Meneer. Enige plek beteken mos geen plek. En waar het hy gisteraand geslaap? Sommer daar duskant Belfast onder ‘n boom, Meneer.

Dis amper winter! Paasnaweek is al amper vergete.

Toe die son rooi tussen die jakarandas begin sak, het Wim links gedraai. Sonder om te stop. Huis toe. Hy het geweet daar wag ‘n komberslose nag vir Steve iewers in ‘n hool.

Sy vrou se maatskaplike hart het verstaan. Dit was ook nie die eerste keer nie. Die spaarkamer was vir Steve se oë ‘n luukse. Die rondkyk het alles verklap. En die badkamer is net langsaan. Seep was ‘n skaars-artikel, dit kon jy ruik. Drank was nog in sy asem. Wim het iets te ete vir hom kamer toe gevat nadat die stortwater ophou vloei het. Steve was nie gemaklik om saam met hulle aan tafel te eet nie. Hy het weer dieselfde klere aangehad.

Soos ‘n wildekat wat die vars melk nie vertrou nie, was sy oë die volgende oggend agterdogtig in die warm kombuis. Iewers het ‘n vuurtjie vir die winter buite geknetter. Na nog ‘n boerbeskuit in die koffie het die wild effens in sy oë bedaar.

Wim en sy vrou het besef hierdie man se heenkome is doelloos. Hoe en hoekom die klappe van die lewe hom tot hier gebring het, was nie vandag se storie nie. En of hy nog ‘n dag langer hier wil bly totdat sy dinge uitgesorteer is? Dankbaar Meneer!

Die enkele dae het ‘n week geword. Die week het ‘n maand geword. Steve het saam met hulle aan tafel begin eet. Hulle vermoede van ongesonde afhanklikheidsmiddele is bevestig. Soos ‘n kat wat toe oë aan sy bak afgeroomde melk drink, het hy hulle begin vertrou. Gesê van die vrou en hy kan nie onthou wanneer laas hy hulle gesien het nie. Wanneer hy grepe van sy storie vertel het, het die mondhoeke verbitter. Sy oë het verlang.

Hulle het geweet die dwelms bly ‘n broeiende probleem.

Die maand het ‘n jaar geword. Steve het ‘n eie sleutel van die huis gehad. Hy het ‘n kind geword. Etenstye was skerts-tye. Soms het hulle woordeloos sy oë rooi opgemerk. Met tye het hy in sy kamer onttrek; ander kere het hulle saam voor die TV geroes. Soggens het dit sy werk geword om die brood vir ontbyt te rooster. So het die saam-leef-lewe hulle gewoonte geword.

Een oggend het Wim en sy vrou gewag vir die geroosterde broodjie. Sy kamerdeur was nog toe. Die badkamer stil. Sy bed was mooi opgemaak. Die klere wat hulle intussen vir hom gekoop het, het netjies in die kas gehang. Miskien moes hy net vroeg iewers heen uit.

Die stilte van een dag het ‘n week geword. Die huis was onnatuurlik. Die week het ‘n maand geword sonder die botter wat in ‘n warm gesnyde stukkie brood in smelt. En die maand het ‘n jaar geword. Jare. Geen nuus nie. Nie oor lewe nie en ook nie oor dood nie. Die lewe moes voort. Daar was navraag en soek na. Telefoonoproepe wat moontlik tot ‘n leidraad iewers sou lei. Tyd het verbygetik.

Tien jaar later het Wim sy nuwe selfoon geantwoord en Steve se stem herken voordat hy sy naam kon noem. Die vrae het in ‘n stilte gestol. Kan ek kom hallo sê? Bly julle nog op dieselfde plek? Sal more-oggend pas?

Asof dit gister was, het Steve die brood uit die blik gehaal en gerooster. Die ekstra botter het weggesmelt. Gebruik sommer dieselfde mes om mee te eet. Die nuwe koffiemasjien het die kombuis vol bone gemaak. Hou jy nog van sunny side up eiers? Die praat was nie so sukkelend soos die eerste dag op pad Pretoria toe nie. Hulle was bekendes wat oor gisters gepraat het. Die jare het gryser wyshede gewys. Begin by die begin man, toe ons mekaar laas gesien het. Toe jy net een oggend…

joburgMy voete het my Johannesburg toe gevat. Sy oë was weer rooi. Maar anders rooierig as tien jaar gelede. Soos wat hy praat, het hy nie eers die traanstreep afgevee nie. Daar het ek die sodom-en-gomorra uit my sisteem moes kry. Ek het julle sien lief wees; vir mekaar, vir die Here, vir my! Na een jaar by ‘n gemeente het hulle my familie geword – soos wat julle vir my was. Hulle het my ingtrek in die Bybelskool waar ek die hoekom van my lewe ontdek het. Boustene wat hierdie murasie herstel het. Ek het onlangs ‘n bouvallige plek opgekoop. Opgebou. Vandag huisves ek mense daarin soos julle my ingetrek het. Doellose rylopers van die lewe.

Steve kon weer lief kry. Ons tweede enetjie is juis op pad en Wimpie gaan ‘n trotse ouboet wees.