Eet-Sum-Mor
deur Müller Crauwcamp
‘n Vriend het eendag gesê daar is baie erge dinge in die lewe… daar is hongersnood en oorloë en gerugte van oorloë (en dan is daar nog pandemie ook), maar die ergste van dit alles is… om jou kinders se briekligte te sien voordat hulle op ‘n Sondagmiddag by die hek uitry.
Na kerk is die tafel mooi gedek en die kos-voorbereiding het die vorige dag al begin. Geen minuut se kuier kon gemors word nie. Die hoogtepunt van die week was om soveel moontlik van die week se gebeurlikhede in te haal. Dit het oor die etenstafel gebeur. Soms het almal gelyk wou praat. Ma se kos proe darem soveel beter as die kommune se saamflans. En dankietog vir die bevrore saamstuur wat hierdie keer net tot Woensdag gehou het. Of… oor die selfstandig-wees in die nuwe woonstelletjie lei ‘n mens net versigtig af dat al die nuwe opkooksel-probeerslae nie kon kers opsteek nie. Hoe kry Ma hierdie patats so krisp-lekker… darem proe my pasta al beter…
Ouerskap se een groot doel is om kinders as selfstandige jong volwassenes die lewe in te stuur. En dan word hulle so verdomp gou groot! Groot-wees is om self die pleister op te plak as die lewe ‘n klip in die pad gerol het. Of selfs om net pleisters te hê – by die huis was so alles!
Daar was dae wat ons die pampoen en groenbone met geduld wonderbaarlik tot by hul monde moes invlieg. Nou is dit anders; geen woord word onnodig gerep wanneer daar ongemerk nog ‘n skeppie op die bord land nie. Om mekaar in die rede te val is okay en praat maar met ‘n mond vol kos terwyl die bondel wasgoed gou tuimel voor dit droog is… elke woord is ‘n kosbare stukkie vir later in die week se herkou.
Wanneer daar ‘n uiltjie geknip is, was dit ‘n kort enetjie. Die saam skarrel en beplan aan ‘n volgende week het sy loop geloop totdat die ketel aangeskakel is… dit was soos ‘n aankondiging. Soos die horlosie op die buffet wat sy dieng-dong slaan en sê dis tyd!
Die tassies en koelerbokse is gepak – onthou net nog die blou koudmaakgoedjies in die vrieskas – wanneer die koffies sitkamer toe gedra word. Met die allerbelangrikste iets daarby!
Daar is vyftien brosbroodkoekies in een pakkie Eet-Sum-Mor! Dis of ons al vier stadig daaraan gekou het. Gedoop het. Die perfekte smaak wat tydloos verewig is. Almal het geweet as hulle op is, is alles op.
Op!
Tussen die vier van ons was Mam die een wat gewoonlik net drie gekry het. Eet-Sum-Mors het sy oorsprong in saam-wees. Sondagmiddae was ‘n saamkuier op ons bed toe middagslapies tradisioneel was! Gister is eendag lank lank gelede. Nou kies hulle self koers.
Niemand het opgemerk dat Boeta een by Dad gesteel het nie. Soms het die laaste soet koekie so sout geproe. Bros en broos was dieselfde. Niemand wou die klok dophou nie, maar hy het onwelkom sy tyd op die uur gesing. Dan was dit tyd…
Tyd vir hulle opdra aan onse Here God. Omdat hulle groot word en groot geword het. Sonder om my oë te hoef oopmaak, het ek geweet Mam het nou vlerke wat werk. Arms vol vashou. Soos toe sy slaaptydstories gelees het. En die tiesjoeboks is op die onderste sport van die ronde tafeltjie in die middel van die sitkamer. Wees tog met hulle liewe Here en laat hulle veilig ry…
Sakke en tasse word toegezip en het jy dit ingepak en dat onthou? Almal dra iets buitentoe en ai wanneer laas is die motortjie tog gewas? Simpel sêgoed help met emosies wegsteek. Die drukke is langer maar nooit lank genoeg nie!
Dis met hulle Mam onder my vlerk dat ons twee aanhou waai. ‘n Laaste mooi ry uit ons monde hoor hulle nie meer nie; die rooi ligte van die motor se agterkant is nou al anderkant die hek wat weer self toegaan.
Terwyl ons hand aan hand in ‘n stil nes instap, wonder ek hoekom tog is daar so min brosbroodjies in een pak Eet-Sum-Mor?
