Die Herfs van 2020
deur Müller Crauwcamp
Die Herfs van 2020
deur Müller Crauwcamp - Mei 2020
Aanvanklik het hy kortbroek en kaalvoet gebokspring terwyl die klein-groen bessies verkleur. Die goud-geel het ongemerk moes plek maak totdat die blou lug in kontras was met die diep-rooi bessies; reg vir die tiptol-voëls om te kom vreet wanneer die winterkossies min raak. Effens geboë het hy sy kraag opgeslaan en die jaspunte stywer getrek.
Hierdie jaar het herfs net gebeur. Hy het soos gewoonlik eerste in die witstinkhoute van tak tot tak geklouter. Sy blare grond toe geblaas om later met kaal arms te staan en koudkry.
Aanvanklik het hy tussen skares deur gevleg. In verkeer vasgesit. In shopping malls skouers geskuur en buite gewag terwyl die wêreld en sy vrou koffie drink. Onbewus van iewers is daar iemand siek...
Nog voordat hy die volgende Sondag kon saamsing, is hy huis toe gestuur; ingeperk! Met statistieke wat daagliks opdateer en nie wil afdateer nie. Tussen al die baie waarhede het die onwaarhede hulself ook ingevleg. Wie om te glo het ‘n cluedo-spel geword. Oë is toegesluit agter gemaskerde tralies. Die roesemoes van die massas het ‘n vae begrip geword van eendag lank-lank gelede… aan die einde was almal kenners oor die Covid-ding.
Hy het binne-in huise gaan bly… waar gesinne mekaar weer ontdek het. Asblik-uitvat het verander in ‘n gesinsaktiwiteit en lootjies is getrek oor wie dit weer mag gaan haal. Kosmaak was nie meer net Ma se werk nie; so ook nie huis skoonmaak nie. Sonder die huishulp was dit die spreekwoordelike ontdekking van vele hande maak ligte werk. Gesinswaardes begin weer swaarder weeg as die groepsdruk van ‘n ouderdomsgroepering. Ouers weet weer wat in hul kinders se lewens aangaan.
En juffrouens werk toe harder as wat almal gedink het! Hy het fyn geluister hoe ouers die sisteem minder blameer wanneer hulle self die sisteem moet wees. Leef en leer is nie net ‘n grootskool se ding nie. Koppe word slimmer bymekaar gesit om op datum te bly. En dis nie meer nodig om die kompetisie met die Jones’e te wen nie. Sosialisering begin tuis, ja. En Boetie is toe al die tyd jou beste maatjie.
Saans voor slaaptyd luister hy weer saam as dit storietyd is. Josef en Dawid word uiteindelik die helde wat vrees oorwin. Psalms 23 en 91 se gewildheid skiet soos viral-likes die hoogte in.
Meer gereeld het hy oor die skouers geloer na wat op die skerm gebeur. En dis toe sowaar waar dat die selfoon jou toegang is tot alles. Zoom en Facebook het die vensters na die buitewêreld geword. Darem kan oumas en oupas hul kleinkinders sien. Maar die skerm bly plat as jy daaraan raak. En aan ‘n verjaardagkersie moet daar saam geblaas word. Gelyktydig. Nooit het hy kon dink dat vat en sien en vinnige kuiergeselsies as weelde-artikels in die geheue gestoor word nie.
Die YouTube-kerk was vir hom nuut. Nie gedink dat mense horisontaal én vertikaal kan in-zoom nie. Het data belangriker geword as Bybelverspreiding? En as hy eendag weer saam kan sing, sal juig-al-wat-leef aus vollem Halzen wees!
Wat die wêreld sien, is bokant blink. Hare en make-up en knopieshemp vir ‘n meeting – maar hy het geweet: onder die baadjie en das is die slaapbroek en kombersie vir die herfsluggie onsigbaar. Soms. So leer ken almal mekaar se blokkies… op die skerm - en werk van die huis af kan toe werk. Vir party. Die nuwe normaal se kwaliteit het selfs verhoog. Terwyl ander dubbel-kwaliteit in dieselfde tyd moes lewer.
Hy het gryser geword. Die mense om hom ook. Nie net omdat die haarkapper nie nou mag kleur nie, maar ook omdat kreatiewe hoop-planne góú in plek moet val. Meel en eiers is soos brood nodig. En mense het begin rondkyk. Selfs al het jy min, deel jy met dié wat minder het.
Binnekort is die sneeu op die Drakensberge hopelik groter nuus as die pandemie. My fellow South Africans…
Die herfs van 2020 het sy jas toegeknoop. Sy stewels toegeryg. Die kortmou-dae van rondspring tussen kuiers en koffiewinkels was ‘n vaagweg-onthou. Met sy hande om die beker wat nog stoom, sien hy van binne-af hoe die tiptol aan ‘n diep-rooi bessie knibbel.
