Tentjie

deur Müller Crauwcamp

Jy kan sien dis 'n nuwe tentjie. Dit gaan mooi beskerming bied teen die see se son. Elke lid van die gesin het arms vol afgedra strand toe. Dit neergesmyt. Die tentjie word netjies uit sy sak gehaal. Dis 'n nuwe een, jy kan sien hy gaan nooit ooit weer so netjies daarin pas nie. Die kinders is haastig om die branders te trotseer, maar eerste dinge eerste! Een haal die pale uit, 'n ander trek die punt van die tent uit. Dit flap in die wind. Nog een soek skelm iets om te peusel uit die toe koelboks. Pa deel orders uit. Weet ook nie mooi hoe werk die ding nie. Die pale is van daai soort wat opgekonsertina word. Dit skiet tieneragtig los en piets die jongste onderkant die boud. Ma haal iets uit die oop koelboks om te troos. Twee stelle hande minder om te help klou aan die blou seil wat wys waarheen die wind waai.

Die lyfies is bleek. Die lywe ook. Net Pa se gesig is rooi sonder 'n hand om die sweet af te vee. Die wat kan, moet elkeen 'n klaar paal vashou vir die deurtrek deur die te klein lissies. Lussies sou beter wees. Hulle hou vas met omgedraaide nekke; kyk nie wat hulle doen nie. Die see is so mooi blou en die branders se skree is harder as Pa s'n.

Met die vierde probeerslag is die eerste koeël deur die kerk. Die klein gaatjies in die tent sal nie pla nie.

Die nuwe swembroeke lyk dieselfde. Almal effens te groot vir die maer beentjies - dit moet volgende seisoen nog pas. Pa s'n is 'n paar seisoene oud. Sit nou knap. Te knap wanneer hy soos 'n loodgieter buk.

Die lang slierte van die tent moet nog sand in kry; dis 'n laaste anker-opdrag voor die branders hulle lyfies mag afkoel. Aan die oorhaastige sand-hande weet ek dis onvoldoende gewig om as tentpenne te dien. Mens weet mos net. Die moeilikheid is vir later.

Voordat Pa die laaste knopies vashaak en nog inspeksie kan doen, kom die twee oudste seuns al wittand reg met hulle nuwe boogieborde. Ma help die jongste ongeduldige die branders in. Dit slaan hulle om op hulle boude.

Pa het ook gaan sit om sy kroos dop te hou. In die koelte. Uiteindelik. Salig onbewus van die een seilflap wat die wind reeds losgewoel het.